1 Wie is dit wat daar van Edom af aankom? Wie is dit wat van Bosra af kom met sulke helder rooi klere? Wie is dit wat so flink aangestap kom met daardie klere? Dit is Ek, die Here. Ek kom vir julle sê dat Ek julle gaan red. Ek het die krag om julle vry te maak.
2 Maar waarom is u klere dan so rooi gevlek soos iemand wat in die wynpers druiwe uit- getrap het?
3 Ek het die nasies in die parskuip gaan trap soos druiwe. Ek was alleen. Niemand het My gehelp nie. Ek het hulle in my woede uitgetrap soos druiwekorrels. Ek was kwaad en Ek het hulle stukkend getrap. Hulle bloed het op my klere gespat. Dit het my klere vuil gemaak.
4 Ek het besluit dat dit die regte tyd was om die volke te straf. Die tyd het gekom om my volk te bevry.
5 Ek het gekyk, maar niemand gesien wat My kon help nie. Ek was verbaas dat daar niemand was om My te ondersteun nie. My woede het die oorhand gekry en Ek het dit met my eie krag gedoen.
6 Ek was so kwaad dat Ek die nasies in die grond in getrap het. Ek het hulle in my woede laat steier en hulle bloed oor die aarde laat uitloop.
7 Ek wil oor die liefde en getrouheid van die Here praat. Ek wil die Here se Naam grootmaak oor alles wat Hy vir ons gedoen het. Ek wil sing oor al die baie goeie dinge wat Hy vir Israel gedoen het. Ek wil die Here prys vir al sy liefde en simpatie.
8 Die Here het gesê: Hulle is tog my eie volk. Hulle is my kinders wat My nie sal bedrieg nie. Hy het hulle bevry
9 uit hulle nood. Hy self het hulle verlos. Omdat Hy vir hulle lief was en hulle jammer gekry het, het Hy hulle gered. Hy het hulle nog altyd opgetel en hulle gedra.
10 Hulle het egter in opstand gekom. Hulle het die Gees van God se gevoelens seergemaak. Die Here het daarom vir hulle ’n vyand geword. Hy het teen hulle baklei.
11 Toe het sy volk teruggedink aan die dae lank terug in die tyd van Moses. Hulle het gevra: “Wat het geword van die Here wat sy volk saam met hulle leier deur die see laat trek het? Wat het van Hom geword wat sy Gees in hulle harte laat kom woon het?”
12 Hy het met sy krag die see voor hulle laat oopgaan toe Moses sy hand uitgesteek het. Hy het daarmee seker gemaak dat sy Naam vir altyd onthou sal word.
13 Hy het hulle reg deur die bedding van die see gelei soos perde wat oor die vlaktes hardloop sonder om te struikel.
14 Die Here se Gees het hulle na veiligheid gelei soos vee wat na ’n weiveld in ’n laagte gebring word. So het U, Here, u volk gelei sodat u wonderlike Naam vir altyd onthou kan word.
15 Kyk tog ’n bietjie op ons af van daar bo van u hoë woonplek af. Sien ons raak. Wat het geword van die verterende liefde wat U vir ons gehad het en die groot dade waarmee U ons gered het? Moet tog nie u liefde en u meegevoel van ons af weghou nie.
16 U is tog ons Vader. Abraham het nie van ons geweet nie. Israel kon ons nie geken het nie. Maar U, Here, is ons pa. U Naam was nog altyd “ons Bevryder”.
17 Here, waarom het U toegelaat dat ons vreemdelinge vir U geword het? Waarom het U ons so ongevoelig laat word dat ons nie meer respek vir U het nie? Help ons dat ons weer vir U kan lewe en weer aan U kan behoort.
18 Ons kon vir ’n kort rukkie U by die tempel aanbid. Ons vyand het dit ongelukkig verwoes.
19 Ons het geword soos mense wat nooit aan U behoort het nie, soos mense van wie daar nooit gesê is dat hulle u volk is nie.