1 In die tyd toe koning Agas (hy was die seun van Jotam en die kleinseun van Ussia) koning van Juda was, het koning Resin van Sirië en koning Peka van Israel (hy was Remalja se seun) Jerusalem aangeval. Die aanval het egter misluk.
2 Toe koning Agas (’n koning uit die nageslag van Dawid) die boodskap kry dat die Siriërs ’n samewerkingsooreenkoms met die noordelike gebied van Israel aangegaan het, het hy en sy mense so bang geword dat hulle aan die bewe geraak het. Hulle het behoorlik soos bome gelyk wat deur die wind rondgewaai word.
3 Die Here het toe vir Jesaja gesê: Jy en jou seun Sear-Jasub moet na koning Agas toe gaan. Hy is daar langs die pad waar die kleremakers werk, naby die onderpunt van die kanaal wat van die boonste dam af kom.
4 Sê vir hom: Bly kalm! Moenie nou kop verloor en bang word nie! Die dreigemente van koning Resin en sy Siriërs en van koning Peka, Remalja se seun, beteken net so min soos twee stompe hout wat klaar uitgebrand het en nou net staan en rook.
5 Natuurlik is hulle besig om ’n komplot teen jou te smee.
6 Hulle beplan om Juda aan te val en te oorrompel sodat hulle die land vir hulleself kan vat en die seun van Tabeal as hulle eie koning oor Juda kan aanstel.
7 Maar nou sê Ek, die Here jou God, vir jou: Dit sal nooit gebeur nie!
8 Want Sirië is nie sterker as sy hoofstad, Damaskus, nie, en Damaskus het niks anders om op staat te maak as koning Resin nie. Wat Efraim betref, binne 65 jaar sal hulle so uitmekaargejaag wees dat hulle nie eers meer ’n volk genoem sal word nie.
9 Want Israel is nie sterker as sy hoofstad, Samaria, nie, en Samaria het niks anders om op staat te maak as koning Peka nie. En julle? As julle nie in geloof vasstaan nie, sal julle ook nie voortbestaan nie.
10 Nie lank hierna nie het die Here weer vir Agas ’n boodskap gestuur:
11 Jy kan vir My enige teken vra as bewys dat Ek my woord sal hou,” het die Here gesê. “Al is dit ook iets uit die doderyk of uit die hemel uit.”
12 Maar Agas het geweier. “Ek sal nie vir ’n teken vra nie,” het hy gesê, “ek sal nooit die Here so tart nie.”
13 Toe sê Jesaja: “Koning Agas, jy wat uit Dawid se nageslag kom, luister nou mooi: Is dit nie genoeg dat julle mense se geduld op die proef stel nie? Wil julle nou kyk hoe ver julle die Here se geduld ook kan beproef?
14 In elk geval, die Here sal self vir jou ’n teken gee: ’n jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.
15 Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy oud genoeg is om tussen reg en verkeerd te onderskei.
16 Maar nog voordat hy daardie ouderdom bereik, sal die lande van die twee konings vir wie jy nou so bang is, reeds in puin lê.
17 Nou, wat jou en jou volk en jou familie betref, die Here gaan julle laat swaarkry soos nog nooit tevore nie. Dit sal erger wees as toe die ryk in twee geskeur het, met Efraim aan die een kant en Juda aan die ander kant. Die Here gaan die koning van Assirië na julle toe stuur.
18 “Maar dit is nie al nie. In daardie tyd sal die Here vir die leërs van Egipte en Assirië fluit om hulle nader te roep. Hulle sal op julle toesak soos ’n swerm vlieë en julle steek soos bye.
19 Hulle sal in groot swerms op julle toesak. Nie een gebied sal hulle vryspring nie, nie die verlate valleie, die grotte of selfs die doringstruike nie, en nog minder die vrugbare weivelde.
20 “In daardie tyd sal die Here ’n skeermes aan die oorkant van die Eufraatrivier gaan huur, die koning van Assirië. Hy en sy leër sal julle kaal skeer van kop tot tone. Al wat sal oorbly, is julle vernedering en skande.
21 As die land so kaal gestroop is en iemand sou dalk nog ’n jong koei en twee skaapooie oorhê,
22 sal hy genoeg dikmelk hê om te eet uit die oorvloed wat hulle sal gee. Die enigste kos wat die paar mense wat in die land oorgebly het, sal hê om te eet sal heuning en dikmelk wees.
23 “In daardie tyd sal elke stuk grond wat voorheen vol geplant was met duisende wingerdstokke wat ’n fortuin werd was, oortrek wees met dorings en onkruid.
24 ’n Mens sal daar tussen die doringbosse kan gaan jag, want dit is al wat daar sal bly groei.
25 Bo-op die heuwels waar daar voorheen landerye was, sal die doringstruike en bosse so dig groei dat die mense te bang sal wees om daar in te gaan. Net die skape en beeste sal daar wei.”