1 Die Here vra: Het julle ma ’n skeibrief wat kan bewys dat dit Ek is wat haar weggestuur het? Het Ek iemand geld geskuld dat Ek julle aan hom moes verkoop om die skuld te betaal? Dit is oor julle eie oortredings dat julle aan ’n ander uitverkoop is. Dit is oor julle sondes dat julle ma weggestuur is.
2 Hoekom was daar niemand om My te ontmoet toe Ek na julle toe gekom het nie? Ek het na julle geroep, maar niemand het My geantwoord nie. Is Ek dan nie sterk genoeg om julle te bevry nie? Het Ek nie genoeg krag om julle te red nie? As Ek met die see raas, droog dit net daar op. Ek kan van ’n rivier ’n droë sandbedding maak. Die visse vrek sonder water en lê en stink.
3 Ek kan die lug so donker maak asof dit begrafnisklere aanhet.
4 Die Here het vir my die vermoë gegee om mense wat neerslagtig is, weer moed in te praat. Elke oggend spits ek my ore om verder by die Here te leer.
5 Die Here het my bereid gemaak om na Hom te luister. Ek is nie opstandig teen Hom nie. Ek is ook nie ver van die Here af nie.
6 Ek het my rug gehou dat hulle my maar kan slaan. Ek het my gesig gehou dat hulle maar my baard kan probeer uitpluk. Ek het nie my hande voor my gesig gehou toe hulle my in die gesig gespoeg het om my te beledig nie.
7 Omdat die Here my help, sal ek nie verneder word nie. Ek byt op my tande, want ek weet dat ek nie in die skande sal kom nie.
8 Die Here is aan my kant. Hy bewys ek is reg. Wie wil my hof toe vat? Hy moet maar kom dat ons saam in die hof kan gaan staan. Wie wil regter speel oor my? Laat hy hier na my toe kom.
9 Die Here help my. Wie sal dit waag om te sê dat ek skuldig is? Hulle sal almal verwoes word soos klere wat die motte stukkend vreet.
10 Dié wat respek het vir die Here, luister wat sy dienaar sê. Dié wat in onsekerheid is en geen duidelikheid het oor sy lewe nie, moet op die Here vertrou. Hy moet op God staatmaak.
11 Elkeen van julle wat net op homself staatmaak en by sy eie vuur wil staan, sal daarvan brand. Ek sal julle pyn laat voel wat nooit ophou nie.