1 Nadat Hiskia hulle verslag gehoor het, het hy van ontsteltenis ook sy klere geskeur. Hy het toe vir hom rouklere aangetrek en tempel toe gegaan om te gaan bid en by die Here raad te vra.
2 Daarna stuur hy vir Eljakim en Sebna saam met die leiers van die priesters na Jesaja toe, almal ook met rouklere aan.
3 By Jesaja aangekom, het hulle vir hom die volgende boodskap van Hiskia af gegee: “Ons beleef ’n verskriklike tyd. Ons word bedreig en beledig, dis eintlik tragies, maar ons is soos ’n swanger vrou wat moet geboorte skenk, maar nie die krag het om te kraam nie.
4 Miskien het die Here jou God gehoor hoe die Assiriese amptenaar die lewende God beledig en uittart en sal Hy hom straf vir wat hy gedoen het. Maar in elk geval vra ek jou om te bid vir die klompie van ons wat nog oor is.”
5 Nadat Hiskia se amptenare die boodskap afgelewer het,
6 het Jesaja hulle met sy eie boodskap huis toe gestuur. “Gaan sê vir die koning: so sê die Here: Moenie jou ontstel oor die lasterlike goed wat die amptenaar van My gesê het en bang wees vir sy dreigemente nie.
7 Luister, Ek sal seker maak dat hy ’n boodskap van sy land af kry dat hy dringend soontoe moet terugkom. Dan sal Ek sorg dat hy in sy eie land doodgemaak word.”
8 Op pad terug van Jerusalem af het die Assiriese amptenaar gehoor dat Sanherib uit Lakis uit weg is en besig was om teen Libna te veg. Hy is toe soontoe om met hom te gaan beraadslaag oor wat in Jerusalem gebeur het.
9 Nie lank daarna nie het nog ’n berig by Sanherib aangekom. Die berig het gesê dat Tirhaka, die koning van Kus, op pad was om hom aan te val. Voor hy daar weg is om teen Tirhaka te gaan veg, het hy weer vir Hiskia ’n boodskap gestuur:
10 “Moenie dat jou God jou mislei met praatjies dat ek nie in staat is om Jerusalem in te neem nie.
11 Jy weet baie goed dat die konings van Assirië nog altyd elke land verwoes het wat hulle aangeval het. Wat maak jou so anders?
12 Was daar enige van die ander volke se gode wat hulle mense kon red? My voorgangers het hulle almal vernietig. Noem hulle op: Gosan, Haran, Resef en die mense van Eden in Telassar.
13 Waar is die konings van Hamat, Arpad, Sefarwajim, Hena en Awwa?”
14 Nadat Hiskia die boodskap gelees het, is hy tempel toe daarmee. Daar het hy die brief vir die Here voorgelees
15 en gebid:
16 “Almagtige Here, God van Israel, U wat op u troon bokant die gerubs sit, U alleen is God van al die koninkryke op aarde. U het die hemel en die aarde gemaak.
17 Here, luister wat sê Sanherib en kyk wat doen hy. Hierdie boodskap wat hy gestuur het, dryf die spot met U, die lewende God!
18 Here, ons weet almal dat hy die waarheid praat oor al die nasies wat die Assiriese konings al verwoes het,
19 en hoedat hulle hulle gode gevat en in die vuur gegooi het om te verbrand. Maar ons weet hoekom hulle dit kon regkry. Dit was nikswerd afgode, beelde van hout en klip wat deur mense gemaak is.
20 Daarom bid ek: Here ons God, beskerm ons teen die aanvalle van die Assiriërs. Dan sal al die mense van die wêreld besef dat net U, Here, werklik God is.”
21 Hierop het Jesaja die volgende boodskap van die Here vir Hiskia gestuur: Die Here die God van Israel het jou gebed oor Sanherib, die koning van Assirië, gehoor.
22 Vir hom het die Here die volgende boodskap: Die stad Sion spot met jou en verag jou, Sanherib. Jerusalem steek vir jou tong uit en kyk jou met minagting agterna terwyl jy wegvlug.
23 Vir wie dink jy het jy so verneder en belaglik gemaak? Teenoor wie het jy so grootgepraat en op wie het jy neergesien? Dit was op My, die heilige God van Israel.
24 Jy het jou amptenare gestuur om die Here te spot en uit te tart. Dit is jy wat gespog het oor hoe baie strydwaens jy het en hoedat jy met hierdie strydwaens reg oor die Libanonberge sal ry, hoedat jy selfs die hoogste en mooiste seder- en sipresbome tot teen die grond gaan afkap. Jy het gespog dat jy die hoogste wegkruipplekke uitgesnuffel het en diep in die bos ingedring het sodat niemand vir jou kan wegkruip nie.
25 “Ek het in baie vreemde lande hulle fonteine vir my gevat sodat ek my dors kon les met hulle water. Ek het selfs die riviere in Egipte opgedam sodat my soldate daardeur kon trek,” spog jy.
26 Sanherib, is jy die enigste een wat dit nie weet nie; wie dink jy het al hierdie dinge beplan? Dit was Ek, die Here! Ek het lank terug al beplan dat jy versterkte stede in murasies sal verander. Al wat gebeur het, is dat Ek jou nou toegelaat het om dit te doen.
27 Dit is hoekom hulle mense nie teen jou kan veg nie en hoekom hulle so ’n maklike prooi vir jou is. Hulle het geen verweer nie, byna soos nuutgeplante gras waaroor ’n klomp mense skielik begin loop: daardie gras staan nie ’n kans om te groei nie.
28 Maar Ek ken jou. Ek weet van elke beweging wat jy maak. Ek weet ook hoe jy My in jou woede uitgeskel het.
29 Omdat Ek al hierdie goed moes beleef, gaan Ek jou mak maak. As ’n mens ’n ring in ’n bul se neus sit, is hy so mak soos ’n lam en kan jy met hom doen net wat jy wil. So gaan Ek vir jou ’n ring in jou neus sit en jy sal moet doen wat Ek sê. En soos ’n mens ’n perd kan stuur net waarheen jy wil as jy ’n stang in sy bek gesit het, gaan Ek jou stuur; in een rigting: terug met die pad waarmee jy gekom het!
30 Toe sê Jesaja vir Hiskia: “Hierdie is die bewys dat die Here hierdie stad teen die koning van Assirië sal beskerm. Hierdie jaar en volgende jaar sal julle koring eet wat vanself opgekom het van die saad wat in die grond oorgebly het. Maar die jaar daarop sal julle weer kan saai en oes. Julle sal ook julle wingerde kan versorg en van die druiwe eet.
31 Die klompie mense van Juda wat die slag oorleef het, sal weer gevestig raak in die land, soos ’n boom wat sy wortels in die grond laat ingroei en dan sterk word en later vrugte dra.
32 Daar sal mense oorbly in Jerusalem en op Sion en hulle sal van daar af weer ’n nuwe begin maak. Ek, die Here die Almagtige, sal daarvoor sorg omdat Ek hulle so liefhet.
33 Wat die koning van Assirië betref, sê die Here: hy sal nie sy voete in hierdie stad sit of ’n enkele pyl soontoe afskiet nie. Niemand van sy soldate met hulle swaarde en skilde sal ’n kans kry om eens in die rigting van die stad te beweeg of om grondwalle teen die muur te probeer opbou sodat hulle in die stad kan inkom nie.
34 Die koning van Assirië sal met leë hande teruggaan met dieselfde pad waarmee hy gekom het. Hy sal nie naby Jerusalem kom nie. Ek, die Here, sê so!
35 Ek sal die stad beskerm en verdedig om my eer te beskerm en ter wille van my belofte wat Ek aan my dienaar, Dawid, gemaak het.”
36 Daardie nag is die engel van die Here in die Assiriërs se kamp in en hy het 185 000 van hulle soldate doodgemaak. Toe die oorlewendes die volgende môre wakker word, het die lyke die hele kamp vol gelê.
37 Sanherib het net daar kamp opgebreek en teruggegaan Nineve toe.
38 Op ’n dag het hy na een van sy afgodstempels toe gegaan om sy god met die naam Nisrog te aanbid. Twee van sy seuns, Adrammelek en Sareser, het stilletjies ingekom en hom met hulle swaarde doodgesteek. Daarna het hulle na die gebied van Ararat toe gevlug en daar gaan bly. Sanherib se seun Esarhaddon het hom as koning opgevolg.