1 Die Here se boodskap om Damaskus se straf aan te kondig: Damaskus gaan ophou om ’n stad te wees; al wat van die stad gaan oorbly, is ’n puinhoop.
2 Die dorpies van Aroër sal so verlate wees dat die kleinvee daar sal gaan lê en rus sonder dat iemand hulle verwilder.
3 Israel sal magteloos wees en Damaskus sal sy onafhanklikheid verloor. Die klompie Siriërs wat oorbly, sal net so hulpeloos wees soos die noordelike stamme wat nou in Israel woon, sê die Here die Almagtige.
4 Daardie dag sal Israel se mag tot niet gaan en sy rykdom sal in armoede verander.
5 Israel sal so verlate en kaal gestroop wees soos ’n land in die Refaimvallei wat klaar geoes is en waarvan selfs die laaste koringare wat in die land agtergebly het, opgetel is.
6 Daar sal net ’n paar mense in die land oorbly, net soos daar altyd ’n paar verlore olywe oorbly nadat ’n mens die rypes afgeslaan het. Dalk twee of drie aan die heel boonste toppe of vier of vyf aan ’n ander tak, sê die Here die God van Israel.
7 Op daardie dag sal die mense weer hulp gaan soek by die Here wat hulle gemaak het, en respek hê vir die heilige God van Israel.
8 Dan sal hulle nie meer op die altare en die afgode wat hulle self gemaak het, vertrou nie. Hulle sal nie meer die beelde van Asjera aanbid en wierook op hulle altare vir die gode brand nie.
9 In daardie tyd sal Israel se versterkte stede verlate lê, toegegroei onder die bossies, net soos die stede van die Hewiete en die Amoriete toe hulle destyds uit vrees vir die Israeliete uit hulle stede gevlug het.
10 Julle vra hoekom? Omdat jy, Israel, die rug gedraai het vir die Here wat jou nog altyd gehelp het. Julle het vergeet dat die Here altyd die rots was waar julle veilig kon wegkruip vir julle vyande. So, plant maar lote en lê die mooiste tuine aan vir julle afgode vir wie julle so lief is.
11 Al sou die onmoontlike gebeur en hierdie plante dadelik begin groei en blom en die lote vrugte dra, sal julle dit nie oes nie. Die enigste oes wat op julle wag, is siekte en onhoudbare pyn.
12 Luister, hoor die dreuning! Magtige nasies is aan die optrek, hulle opmars klink soos die gedruis van die see en die geluid van groot branders wat op die strand breek.
13 Maar ten spyte van al die geraas laat die Here hulle in hulle spore omdraai en kan hulle nie vinnig genoeg weghardloop nie. Voor die Here se mag is hulle soos strooi wat deur die wind weggewaai word of stof wat deur ’n warrelwind opgewaai word.
14 In die aand is hulle nog ’n bedreiging wat Israel paniekbevange laat wegkruip, maar teen dagbreek is daar niks of niemand van hulle oor nie. Dit is die beloning van dié wat die besittings van die volk van die Here plunder en vernietig.