1 As U tog maar net die lug wou oopskeur en van bo af hiernatoe wou afkom! Die berge sal dan voor U skud en bewe
2 soos wanneer vuur hout aan die brand steek en dit die water laat kook. U vyande sal dan van U kennis neem. Die volke sal van bangheid vir U bewe.
3 U sal vreeslike dinge doen wat ons nie verwag het nie. U sal afkom en die berge sal skud.
4 Niemand het nog ooit van ’n god gehoor of een gesien wat soos U dinge laat gebeur vir hulle wat op Hom vertrou nie.
5 U wil graag te doen kry met hulle wat met vreugde reg leef en in gedagte hou hoe U wil hê dat hulle moet leef. Maar U is kwaad vir ons, want ons het sonde gedoen. Ons doen dit nog van altyd af. Kan ons nog ooit gered word?
6 Ons het almal geword soos ’n ding wat niemand meer wil hê nie. Alles wat ons gedink het reg is, is maar soos vuil klere. Ons almal is soos blare wat van die boom afval en saam met die wind weggewaai word.
7 Nie een van ons het tot U gebid of U gevra om ons te help nie. U het daarom van ons padgegee en ons aan ons eie oortredings oorgelaat.
8 U is tog ons Vader, Here. Ons is die klei waaraan U ’n vorm gegee het. U hande het ons almal gemaak.
9 Moet tog nie so verskriklik kwaad bly vir ons nie, Here. Hou tog op om ons sonde vir altyd teen ons te hou. Hou tog in gedagte dat ons almal aan u volk behoort.
10 U stad Sion het so verlate soos ’n woestyn geword. Daar bly nie meer mense in Jerusalem nie.
11 U pragtige tempel waar ons ouers U kom vereer het, is nou afgebrand. Alles wat vir ons waardevol was, is nou daarmee heen.
12 Gaan U hierdie dinge dan maar net so los, Here? Gaan U maar net stilbly en toelaat dat ons so vreeslik swaarkry?