1-2 Hierdie is ’n aankondiging wat genoem word: “Die Vallei van die Visioen.” Wat gaan aan? Wat doen julle almal op julle huise se dakke? Hoekom is die hele stad Jerusalem opgewonde en luidrugtig besig om fees te vier? Julle soldate lê dood in die strate, nie omdat hulle geveg het nie, maar omdat hulle dood is van die honger en van al die siektes in die stad.
3 Julle leiers het soos een man gevlug en oorgegee sonder om weerstand te bied. Party het probeer vlug, maar hulle het nie ver gekom voordat hulle ook gevang is nie.
4 Toe ek dit sien, het ek gesê: “Los my uit! Moenie my probeer troos nie. Los my dat ek kan huil oor my volk se ondergang!”
5 Wat ’n dag van paniek en verwarring het die Here die Almagtige oor die Vallei van die Visioen gebring. Die mure van Jerusalem is afgebreek, die noodkrete van die mense eggo van die berge af.
6 Die boogskutters van Elam kom aangestorm op perde en strydwaens. Die soldate van Kir het reeds hulle swaarde en skilde gereed vir die geveg.
7 Juda se vrugbare vlaktes word oorstroom met strydwaens, die ruiters staan gereed voor Jerusalem se hekke.
8 Van hulle verdedigingslinies het daar niks oorgebly nie. Toe het julle skielik na julle wapens gaan soek in die magasyn.
9 Julle het gesien op hoeveel plekke die muur van die Dawidstad reeds deurgebreek is en besef dat julle die water in die onderste dam moet opgaar.
10 Julle het al die huise in Jerusalem bekyk en dié wat bouvallig was se materiaal gebruik om die muur weer te probeer herstel.
11 Julle het ’n opgaardam in die stad gebou om die water van die ou fontein in op te gaar. Maar julle het nie daaraan gedink om tussen alles deur die Here se hulp te vra nie. Hy is al een wat sou kon help, want Hy het alles lank tevore reeds beplan.
12 Dit was die almagtige Here se manier om julle op te roep om te huil en te treur. Hy wou hê julle moet julle koppe kaal skeer as ’n teken van hartseer oor julle sonde en julle moet sakke aantrek om julle berou te wys.
13 Maar julle, wat doen julle? Julle dans en speel en slag beeste en skape vir die fees. “Kom ons eet en drink en wees vrolik,” sê julle, “want môre is ons dood!”
14 Die Here die Almagtige het persoonlik vir my gesê dat Hy hierdie sonde nooit sal vergewe so lank as wat julle leef nie. Dit het die Here die Almagtige gesê.
15 Die Here, die Almagtige, het my die opdrag gegee om Sebna, die paleisbestuurder, met die volgende boodskap te konfronteer:
16 Wie dink jy is jy? Wie het jou die reg gegee om vir jou ’n graf hier in die rotse te laat uitkap tussen die konings se grafte?
17 Jy mag dink jy is belangrik, maar die Here gaan jou gryp en jou uitskud soos ’n mens klere uitskud om ’n luis daaruit te kry.
18 Daarna sal die Here jou in ’n klein balletjie rol en jou ver weggooi tot in ’n droë, uitgestrekte land. Daar sal jy doodgaan en al jou pragtige koetse waarop jy so trots is, sal nutteloos en stukkend daar bly staan, want jy het jou koning in die skande gesteek.
19 Die Here gaan jou uit jou amp ontslaan en jou van al jou aansien stroop.
20 Nadat Ek dit gedoen het, sê die Here, sal Ek my dienaar Eljakim, die seun van Gilkija, roep en hom in jou plek aanstel.
21 Hy sal jou ampsklere dra, jou titel kry en die gesag hê wat jy gehad het. Omdat hy hulle belange op die hart dra en hulle versorg, sal hy vir die inwoners van Jerusalem en Juda ’n vaderfiguur wees.
22 Ek sal vir hom die belangrikste posisie in die paleis gee. Hy sal net onder die koning wees en daarom sal hy die sleutels van die paleis dra. Hy sal oop- en toesluit waar hy wil en niemand sal hom kan teëgaan nie.
23 Hy sal so standvastig en onwrikbaar soos ’n tentpen wees wat behoorlik ingeslaan is, niks sal hom kan beweeg nie. Hy sal die trots van sy familie wees.
24 Maar die las en die druk van sy familie sal net te veel word vir hom. Hy sal soos ’n haak wees waaraan daar te veel swaar goed hang. Die een of ander tyd moet dit ingee.
25 Daarom, so sê die Here die Almagtige, kom daar ’n dag wanneer hierdie stewige pen net sal ingee, dit sal afbreek en val en alles wat daaraan gehang het, sal saam val en stukkend breek. Die Here het dit gesê.