1 Die ander lande moet na my luister. Die lande wat ver weg is, moet fyn luister wat ek sê. Die Here het my geroep voordat ek gebore is. Hy het my alreeds ’n naam gegee voordat ek in die wêreld gekom het.
2 Hy het my woorde so skerp soos ’n swaard gemaak. Hy hou sy hand oor my om my te beskerm. Hy het my soos ’n skerp pyl gemaak wat Hy reghou in sy pylkoker om mee te skiet.
3 Hy het vir my gesê: Jy werk vir My. Jy is Israel. Deur jou wys Ek hoe groot Ek is.
4 Maar ek het gesê: “Ek het my verniet ingespan. Ek het my energie gemors op dinge wat geen voordeel het nie.” Nogtans glo ek die Here sal dit met my laat reg gaan. Hy sal my werk beloon.
5 Die Here het my voor my geboorte al gekies om vir Hom te werk. Hy het my bestem om Jakob na Hom toe terug te bring. Israel moet bymekaargemaak word. Ek is belangrik vir die Here. Hy gee my die krag om te doen wat Hy van my vra.
6 Hy het vir my gesê: Jy moet meer doen as om net die nageslag van Jakob bymekaar te maak. Daar is meer om te doen as om net dié wat nog oor is, terug te lei hierheen. Jy moet boonop ook my lig wees vir die nasies. Jy moet my redding uitdra na die uithoeke van die aarde.
7 Die Here red Israel. Hy is hulle groot God. Hy praat met die een van wie niemand iets dink nie. Die nasies dink hy is onbelangrik. Hy moet konings se vuilwerk doen. Die Here sê vir hom: Konings sal sien wat Ek vir jou doen. Hulle sal uit eerbied vir jou opstaan. Leiers sal voor jou buig ter wille van die Here wat sy woord hou. Hulle sal jou vereer ter wille van die hoë God van Israel wat jou gekies het om aan Hom te behoort.
8 Die Here sê: Wanneer Ek dink dit is die regte tyd, sal Ek jou gebed verhoor. Ek sal jou bystaan op die dag dat jy gered word. Ek sal jou beskerm. Ek sal deur jou ’n ooreenkoms met die volk maak dat Ek die land sal herstel. Hulle sal hulle grond terugkry wat so lank verwaarloos gelê het.
9 Jy sal vir dié wat in tronke sit, kan sê: “Julle word vrygelaat.” Vir dié wat in donker selle opgesluit is, sal jy kan sê: “Julle gaan uitkom.” Wanneer hulle terugkom, sal Ek hulle langs die pad versorg soos skape wat wei. Selfs op die kaal bulte sal daar vir hulle plek wees om gras te eet.
10 Hulle sal nie honger of dors word nie. Die skroeiende wind en die warm son sal hulle nie brand nie. Die Here wat hulle jammer gekry het, sal hulle lei en hulle by water laat uitkom.
11 Ek sal ’n pad maak deur die berge. Ek sal ’n bergpas maak om oor die berge te kom.
12 My volk sal van al die ver plekke af terugkom. Sommige sal uit die noorde kom, ander uit die weste en nog ander uit Egipte.
13 Die lug daar bo moet juig. Die aarde hier onder moet jubel. Die berge moet sing van vreugde. Die Here het sy volk nuwe moed gegee. Hy was jammer vir hulle omdat hulle so swaarkry.
14 Die mense van Jerusalem het gesê: “Die Here het ons in die steek gelaat. Ons God het van ons vergeet.”
15 Kan ’n vrou van haar babatjie vergeet? Kan sy die kind wat sy in die wêreld gebring het, net so laat staan? Selfs al sou so iets gebeur, sal Ek jou nooit vergeet nie.
16 Ek het jou naam op my hand geskryf. Ek dink heeltyd aan jou mure wat so verwoes is.
17 Dié wat jou mure sal herbou, is vinnig op pad na jou toe. Dié wat jou verwoes het, sal van jou af padgee.
18 Maak oop jou oë en kyk wat rondom jou gebeur. Al jou mense kom bymekaar om na jou toe terug te kom. So seker as Ek lewe, sê die Here, jy sal so bly wees wanneer hulle terugkom soos ’n vrou wat plesier het in haar juwele. Jy sal so tevrede wees soos ’n bruid met haar versiersels.
19 Op die oomblik is die hele stad vol bouvalle en puinhope. Jy is ’n land wat verwoes is. Maar as jou mense terugkom, sal daar nie genoeg plek wees vir almal om te woon nie. Daar sal niks meer te sien wees van die vyand wat jou vernietig het nie.
20 Die kinders wat gedurende die tyd van die wegvoering in ander lande gebore is, sal dan by jou kom kla: “Hier is nie genoeg plek vir ons om te bly nie. Gee vir ons meer plek om te bly.”
21 Dan sal jy jou afvra: “Waar kom al hierdie kinders vandaan? Ek het dan my kinders verloor en alleen agtergebly toe hulle na ’n ander land weggevat is. Van waar af kom hierdie kinders? Wie het hulle grootgemaak?”
22 Die Here sê: Ek sal my hand uitsteek na die nasies. Ek sal vir hulle ’n teken gee. Hulle sal julle seuns in hulle arms terugbring. Hulle sal julle dogters op hulle skouers dra.
23 Konings sal julle versorg. Koninginne sal na julle kinders kyk. Hulle sal oor hulle voete val om te doen wat julle wil hê. Julle sal dan weet dat Ek die Here is. Dié wat op My vertrou, sal nie teleurgestel word nie.
24 Jy vra: “Kan die buit wat ’n soldaat in die oorlog gemaak het, sommer van hom af weggevat word? Laat ’n magtige heerser sy gevangenes sommer vry?”
25 Die Here sê: Dit is presies wat gaan gebeur. ’n Persoon wat gevange geneem is, kan wel weer vrygelaat word. Wat ’n sterk man buitgemaak het, kan wel weer by hom afgeneem word. Ek sal self teen julle vyande veg. Ek sal self julle kinders bevry.
26 Jou vyande sal onder mekaar veg. Hulle sal dronk word van die bloed wat vloei. Almal sal dan weet dat dit Ek, die Here, is wat julle bevry en julle red. Ek is die sterk God van Jakob.