23 Jou leiers is oproermakers, hulle grootste vriende is skelms, want hulle is almal korrup en alte lief vir omkoopgeskenke. Maar as dit by die weeskinders en die weduwees kom wat gehelp moet word, wil hulle niks met die saak te doen hê nie.
24 Daarom sê die Here, die magtige God van Israel wat seggenskap het oor alles: Ek sal met julle, my vyande, afreken sodat julle My nie verder kan pla nie.
25 Ek gaan teen julle optree. Soos ’n mens silwer smelt en al die onsuiwerheid daaruit haal, so gaan Ek julle smelt en al die gemors uit julle uitkry.
26 Ek sal weer vir jou goeie leiers en raadgewers gee soos dié van vroeër. Dan sal Jerusalem weer die stad van geregtigheid wat getrou is aan die Here, genoem word.
27 Omdat die Here regverdig is, sal Hy al die mense van Jerusalem red wat hulle sonde bely en terugdraai na Hom toe.
28 Maar Hy sal al die sondaars en opstandiges saam vernietig. Hy sal dié wat die rug vir Hom gedraai het, voor Hom wegvee.
29 Dan sal julle skaam kry oor die akkerbome wat julle aanbid het as heilige bome en die tuine waar julle so graag geoffer het.