3 ’n Dier soos ’n bees ken sy baas se stem en selfs ’n donkie weet goed waarheen om te gaan om kos te kry, maar nie my volk Israel nie. Dit maak nie saak wat Ek doen nie, hulle verstaan niks.
4 Daar wag baie swaarkry op julle, julle sondige volk, want julle almal is skuldig. Julle is ’n klomp korrupte, nikswerd kwaaddoeners! Julle het My, die Here, die heilige God van Israel, verwerp en die neus vir My opgetrek. Dit maak nie saak wat Ek probeer doen het nie, julle het die rug vir My gedraai en julle eie rigting ingeslaan.
5 Wat gaan aan met julle, hoekom hou julle aan om in opstand te kom? Hou julle daarvan om gestraf te word? Kyk hoe lyk julle al, julle is al siek na liggaam en gees.
6 Van kop tot tone is daar nie meer ’n gesonde plek aan julle nie. Julle is die ene kneusplekke, slaanmerke en rou wonde. En hulle is nie skoongemaak of verbind of selfs met salf behandel nie.
7 Kyk hoe lyk julle land, dis verwoes. En julle stede is afgebrand. Julle kan maar net sit en kyk hoe vreemde mense julle lande kaalstroop en verwoes sonder dat julle iets daaromtrent kan doen.
8 Dit is nog net Jerusalem wat oor is. Nie dat dit baie beteken nie, want die stad is so weerloos soos ’n oppasser se hutjie in ’n wingerd of ’n skerm in ’n groentetuin. Jy kan maar sê die stad is klaar omsingel, dit moet nog net ingeneem word.
9 As die Here die Almagtige nie ’n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom en Gomorra totaal verwoes gewees het.