6 Van kop tot tone is daar nie meer ’n gesonde plek aan julle nie. Julle is die ene kneusplekke, slaanmerke en rou wonde. En hulle is nie skoongemaak of verbind of selfs met salf behandel nie.
7 Kyk hoe lyk julle land, dis verwoes. En julle stede is afgebrand. Julle kan maar net sit en kyk hoe vreemde mense julle lande kaalstroop en verwoes sonder dat julle iets daaromtrent kan doen.
8 Dit is nog net Jerusalem wat oor is. Nie dat dit baie beteken nie, want die stad is so weerloos soos ’n oppasser se hutjie in ’n wingerd of ’n skerm in ’n groentetuin. Jy kan maar sê die stad is klaar omsingel, dit moet nog net ingeneem word.
9 As die Here die Almagtige nie ’n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom en Gomorra totaal verwoes gewees het.
10 Julle is eintlik net so skuldig soos daardie twee dorpe. So, luister nou na die Here, julle leiers van Sodom. Let op, mense van Gomorra, want God wil julle iets leer.
11 Wat het Ek met hierdie klomp offers van julle te doen? wil die Here weet. Watter betekenis het skape wat geoffer word of die vet van voerbeeste? Ek steur My doodeenvoudig nie meer daaraan nie. Selfs die bloed van beeste, skape en bokke is nie meer vir My aanvaarbaar nie.
12 Wie het julle gevra om die voorportale van my tempel so te kom vertrap met hierdie waardelose offers? Julle trap net die plek vuil met al hierdie diere.