9 As die Here die Almagtige nie ’n klompie van ons laat oorbly het nie, sou ons net soos Sodom en Gomorra totaal verwoes gewees het.
10 Julle is eintlik net so skuldig soos daardie twee dorpe. So, luister nou na die Here, julle leiers van Sodom. Let op, mense van Gomorra, want God wil julle iets leer.
11 Wat het Ek met hierdie klomp offers van julle te doen? wil die Here weet. Watter betekenis het skape wat geoffer word of die vet van voerbeeste? Ek steur My doodeenvoudig nie meer daaraan nie. Selfs die bloed van beeste, skape en bokke is nie meer vir My aanvaarbaar nie.
12 Wie het julle gevra om die voorportale van my tempel so te kom vertrap met hierdie waardelose offers? Julle trap net die plek vuil met al hierdie diere.
13 Hou op om hier aan te kom met julle offers. Ek sien reg deur julle skynheiligheid! Julle wierookoffers stink vir My! Ek kan dit nie vat dat julle aanhou sonde doen en dan nog steeds ewe vroom hier na die tempel toe kom vir die nuwemaansfeeste en sabbatvierings nie.
14 Ek haat julle rusdae en feeste. Ek is moeg daarvoor, Ek kan dit nie meer verdra nie.
15 Al steek julle julle hande uit na My toe as julle bid, Ek kyk nie eens na julle nie. Julle kan soveel bid as wat julle wil, Ek sal nie na julle luister nie, want julle is almal ’n klomp moordenaars.