10 Die vrolike stemme in die vrugteboorde is stil, niemand sing meer in die wingerde nie. Niemand trap meer wyn in die parskuipe nie, want die Here het ’n einde gemaak aan al die oesvreugde. Daar is niks om te oes nie.
11 Ek treur oor Moab, my trane rol saam met die hartseer klanke van die harp. Ek rou oor Kir-Geres.
12 Ten spyte van al die moeite wat die mense van Moab doen om vir hulle gode by hulle offerplekke op die heuwels te gaan offer en hulle om hulp en raad te smeek, help dit hulle niks.
13 Die Here het al vantevore hierdie dinge van Moab gesê.
14 Nou sê Hy dit weer: Oor drie jaar, en hierdie drie jaar sal net so noukeurig afgetel word soos ’n gehuurde werker die oorblywende dae van sy kontrak aftel, sal Moab se mag en hoogmoed beëindig word. Van sy geweldige bevolking sal net ’n hand vol oorbly en hulle sal in elk geval tot niks in staat wees nie.