7 Daarom huil al die Moabiete oor wat met die land gebeur het. Hulle huil van verslaentheid as hulle besef dat die lekkernye van Kir-Geres iets van die verlede is.
8 Die plase in die omgewing van Gesbon is verwoes en die wingerde by Sibma is verdroog. Hierdie wingerde se wyn het baie konings en heersers dronk gemaak. Hulle ranke het welig en ver gegroei, van Jaser in die noorde deur die woestyn tot by die Dooie See in die suide.
9 Ek huil saam met Jaser se mense oor die wingerde van Sibma. Die trane loop oor my wange as Ek aan Gesbon en Elale dink, want daar is nie sprake van ’n oes waaroor die mense bly kan wees nie.
10 Die vrolike stemme in die vrugteboorde is stil, niemand sing meer in die wingerde nie. Niemand trap meer wyn in die parskuipe nie, want die Here het ’n einde gemaak aan al die oesvreugde. Daar is niks om te oes nie.
11 Ek treur oor Moab, my trane rol saam met die hartseer klanke van die harp. Ek rou oor Kir-Geres.
12 Ten spyte van al die moeite wat die mense van Moab doen om vir hulle gode by hulle offerplekke op die heuwels te gaan offer en hulle om hulp en raad te smeek, help dit hulle niks.
13 Die Here het al vantevore hierdie dinge van Moab gesê.