2 U het die groot stede in murasies verander en hulle versterkte mure afgebreek. Die pragtige paleise van die vyand word platgevee en sal nooit herbou word nie.
3 Daarom sal die mense van die sterkste nasies u almag erken en selfs die wreedste sal vir U ontsag hê.
4 U beskerm die armes, die hulpeloses kom soek by U wegkruipplek. U het vir hulle skuiling gebied teen die mag van die storm en skaduwee gegee teen die hitte van die son. Die aanval van die wrede vyand is soos ’n ysige winterstorm wat genadeloos op alles neerkom,
5 of soos die skroeiende hitte van die son in die woestyn. U het die oorlogskrete van die vyand laat ophou en die oorwinningsliedere van die wreedaards laat verdwyn, die hitte van die son laat verdwyn.
6 Op die berg Sion gaan die Here die Almagtige ’n feesmaal voorberei vir al die volke van die wêreld. Daar sal ’n oorvloed heerlike kos en die beste wyn wees.
7 Hier op die berg sal die Here die wolk van onheil wat oor die volke gehang het, wegvat asook die doek wat hulle oor hulle gesigte gedra het as teken van hulle rou en hartseer.
8 Hy sal die dood vir ewig vernietig en die trane afdroog. Die Here sal ’n einde maak aan die vernedering wat sy volk oor die wêreld moes verduur. Die Here het dit gesê.