8 maar vir Israel het Hy die straf baie ligter gemaak. Hy het hulle vir ’n ruk in ballingskap laat gaan, byna asof hulle deur ’n wind na die ooste toe gewaai is.
9 Deur hierdie lyding sal daar versoening kom vir Israel se sonde. Maar eers as Israel al hulle afgodsaltare afbreek en die klippe fynmaal tot stof en daar geen wierookaltare of vroulike afgodspale oorbly nie, sal al hulle sonde vergewe word.
10 Die versterkte stede lê verlate en stil, die huise staan leeg en die strate is toegegroei met gras. Daar sal vee in strate wei en aan die takkies en grassies vreet en in die skaduwee van die struike lê en herkou.
11 Die takke verdroog aan die bome en die vroue breek dit af vir vuurmaakhout. Israel verstaan niks; daarom het hulle nie teruggekeer na die Here toe nie. Dit is waarom God, wat hulle gemaak het, hulle nie meer jammer kry of Hom oor hulle ontferm nie.
12 Maar daar kom ’n tyd waarop die Here die Israeliete weer bymekaar sal maak, van die Eufraat af tot by die stroom wat die grens met Egipte vorm. Hy sal hulle een vir een gaan haal soos wanneer ’n mens in die oestyd die koring en die kaf van mekaar skei en dan die koringkorrels sorgvuldig bymekaarmaak.
13 Op daardie dag sal daar op ’n groot trompet geblaas word. Dan sal almal wat na Egipte toe verjaag is en almal wat in Assirië verlore geraak het, weer terugkom na hulle eie land toe. Dan sal hulle die Here die Almagtige weer op sy heilige berg in Jerusalem aanbid.