5 Op daardie dag sal die Here die Almagtige die Een wees oor wie sy volk sal roem. Soos mense met verwondering na ’n pragtige kroon kyk wat ’n koning dra, so sal die mense wat van sy volk oorgebly het, na die Here kyk.
6 Vir die regters wat die hofsake moet hanteer, sal Hy ’n sin vir reg en regverdigheid gee en vir die soldate wat die stad teen aanvalle van buite moet beskerm, sal Hy moed gee.
7 Selfs die priesters en profete loop en slinger in die strate. Hulle is so dronk van die wyn en ander drank wat hulle drink dat hulle nie hulle ampspligte behoorlik kan uitvoer nie. Die profete is te beneweld om die visioene te verstaan wat die Here vir hulle gee en die priesters is so dronk dat hulle nie tussen reg en verkeerd kan onderskei nie.
8 Daar is nie ’n plek op hulle tafels wat nie met hulle braaksel bemors is nie.
9 Hulle spot met my en vra: “Wie dink Jesaja miskien is hy dat hy ons wil kom leer? Wat kan hy ons vertel wat ons nie self weet nie? Dink hy ons is ’n klomp pap babatjies?
10 Hy is net soos ’n ma wat vir haar kind ’n rympie wil leer. Letter vir letter, woord vir woord, reël vir reël, alles word oor en oor gesê.”
11 Hoor mooi wat ek vir julle sê: Julle wil nie na my luister nie, daarom gaan God vreemdelinge stuur om met julle te praat in ’n taal wat julle nie verstaan nie. Dit sal julle ’n les leer!