11 Die hele openbaring is nou vir julle soos ’n boek wat verseël is. As jy dit vir iemand gee wat kan lees, sal hy sê: “Ek kan dit nie lees nie; die boek is met ’n seël toegemaak.”
12 En as jy dit vir iemand sou gee wat nie kan lees nie, sal hy sê: “Ek kan nie lees nie.”
13 Die Here het gesê: Hierdie volk praat asof hulle My ken en My dien. Hulle gebruik al die regte en bekende woorde, maar hulle lewe baie ver van My af. Hulle godsdiens is niks anders nie as ’n klomp mensgemaakte reëls wat hulle uit die kop uit ken en opsê.
14 Daarom gaan Ek hierdie volk skok deur een na die ander ongehoorde ding te doen. Hulle geleerdes sal gekke van hulleself maak en van al hulle kennis sal net mooi niks oorbly nie.
15 Daar wag groot probleme op dié wat dink hulle kan hulle planne vir die Here wegsteek deur in die donker te konkel. Hulle dink by hulleself: “Niemand weet van ons nie, hulle kan nie sien wat ons doen nie.”
16 Hoe naïef kan ’n mens wees! Die Here is tog die pottebakker, en die pottebakker en die klei kan mos nooit ewe belangrik wees nie. Julle is die kleipotte wat Hy gemaak het, julle kan nie omdraai en sê: “Hy het ons nie gemaak nie.” Nog minder kan ’n kleipot ooit van die pottebakker sê: “Hy weet nie wat hy doen nie.”
17 Dit is nie meer lank nie, dan sal die wildernis waarin die Libanon verander het, weer ’n vrugbare gebied wees. En die landerye sal so vrugbaar wees dat dit wat daarop groei vir ’n bos aangesien sal word.