2 sal Ek Jerusalem in ’n hoek dryf. Daar sal baie swaarkry en hartseer in hierdie stad wees. Die hele stad sal soos ’n offeraltaar met bloed bedek wees.
3 Ek sal jou van alle kante af aanval en jou mense van die buitewêreld afsny.
4 Jerusalem sal soos ’n lyk wees wie se gees onder uit die graf uit probeer praat, ’n spookstem wat uit die grond uit mompel.
5 Maar al hierdie wrede vyande wat in hulle hordes op jou toegesak het, sal soos fyn stof in die wind weggewaai word,
6 want die Here die Almagtige sal skielik tot jou redding kom met ’n donderstorm en ’n aardbewing wat met ’n geweldige gedreun gepaardgaan. Daar sal storms en orkane wees, en ’n vuur wat alles voor die voet vernietig.
7 Dan sal al die nasies wat teen Jerusalem geveg en hulle laat ly het, verdwyn asof dit alles net ’n nare nagmerrie was, ’n droom wat jy kan vergeet.
8 As iemand honger is en hy droom hy eet, is hy nog steeds honger as hy wakker word. En as iemand wat dors is, droom hy drink water, is sy keel nog steeds kurkdroog as hy wakker word, sy dors is nie geles nie. Net so sal dit gaan met die gesamentlike magte van al die nasies wat teen Jerusalem veg.