23 Dan sal die Here julle in die planttyd met genoeg reën seën sodat julle wonderlike oeste sal hê. Daar sal volop weiding vir julle vee wees.
24 Die osse en die donkies wat julle gebruik om mee te ploeg sal goeie kos kry wat spesiaal vir hulle voorberei is.
25 Op die dag as julle vyande verslaan en hulle forte vernietig word, sal daar strome water van elke heuwel en berg af vloei.
26 Dan sal die maan net so helder soos die son skyn en die son sal sewe keer skerper as gewoonlik wees, byna asof al die sonlig van sewe dae bymekaargesit is op een dag. Dit is hoe dit sal lyk op dié dag wanneer die Here sy volk se stukkende plekke verbind en die wonde wat Hy hulle toegedien het, weer gesond maak.
27 Kyk, die Here kom van ver af. Hy is woedend kwaad. As Hy praat, is sy woorde soos weerligstrale wat vuur en rook uit die grond slaan.
28 Sy asem is soos ’n diep stroom water wat tot by jou nek kom en jou saamsleep. Hy kom om die nasies uit te sif soos ’n mens meel sif. Hy neem hulle gevange en vat hulle waarheen Hy wil, net soos ’n mens met ’n perd maak waarvoor jy ’n toom aangesit het: hy moet loop net waarheen jy hom lei.
29 Maar julle sal sing soos in die nag voor een van die heilige feeste. Julle sal bly wees soos wanneer ’n fluitspeler die groep pelgrims na Jerusalem, na die berg van die Here toe lei; Hy, die Beskermer van Israel.