5 Al wat dit hulle in die sak sal bring, is skande en vernedering, beslis nie hulp nie.
6 Kyk hoe trek die arme pakdiere deur die gevaarlike woestyngebied met sy leeus en slange en selfs vlieënde drake na Egipte toe. Die donkies en kamele kreun onder die gewig van die geskenke wat op hulle gelaai is. Hulle doen dit alles om hulp te gaan soek by ’n volk wat hulle nie kan help nie.
7 Egipte se beloftes is leeg en die hulp wat hy kan gee, beteken niks. Daarom het Ek hom die bynaam Rahab gegee, die monster wat niks beteken nie.
8 Gaan skryf hierdie woorde op waar Juda by is en bewaar dit veilig sodat dit ’n getuienis teen hulle kan wees in die toekoms,
9 want hulle is ’n opstandige klomp leuenaars wat weier om na die Here se raad te luister.
10 Vir die profete en die sieners sê hulle: “Ons wil niks van julle visioene weet nie. Moenie julle vir ons wil kom vertel wat reg is nie. Kom vertel ons liewer wat ons wil hoor, al is dit nie wat die Here vir julle gesê het nie.
11 Gee pad voor ons met julle doemprofesieë. Ons is moeg daarvoor. Ons het meer as genoeg gehad van julle praatjies oor die heilige God van Israel. Hou op om vir ons te preek!”