1 In die veertiende jaar van koning Hiskia se regering het koning Sanherib van Assirië al die versterkte stede van Juda aangeval en hulle ingeneem.
2 Hy het toe sy persoonlike assistent met ’n groot leër van Lakis af na Jerusalem toe gestuur met die bedoeling om koning Hiskia te dwing om oor te gee. Die Assiriërs het stelling ingeneem by die waterkanaal wat die water van die boonste dam af na die stad toe gelei het. Dit was langs die pad by die stuk grond waar die mense gewerk het wat die materiaal vir die klere gekleur het.
3 Drie van Hiskia se staatsamptenare is toe af na Sanherib se persoonlike assistent toe om met hom te gaan onderhandel. Hulle was die paleisbestuurder, Eljakim (sy pa was Gilkija), die staatsekretaris, Sebna, en die hoof uitvoerende beampte van die paleis, Joag (sy pa was Asaf).
4 Sanherib se assistent wou by hulle weet waarom koning Hiskia so selfversekerd was.
5 Hy het hulle toe teruggestuur na Hiskia toe met hierdie boodskap van die koning van Assirië: “Dink jy mense se leë beloftes gaan jou help oorlog maak? Dit is tog nie hoe ’n mens jou strategie beplan nie! Watter een van jou bondgenote dink jy gaan jou help om teen Assirië te veg?
6 Ek weet jy dink Egipte gaan jou help, maar dit is ’n groot fout. Om op die koning van Egipte vir militêre hulp te vertrou in so ’n situasie is net so goed as om ’n geknakte riet te vat en te dink dit kan ’n goeie kierie wees. Die eerste keer as jy ’n bietjie hard daarop leun, breek die riet en sny boonop nog jou hand ook stukkend. Wees gewaarsku, die koning van Egipte is onbetroubaar!
7 Of wil jy dalk vir my vertel dat jy nou weer ewe skielik op die Here jou God vertrou? As ek reg onthou, het jy, koning Hiskia, Hom erg beledig. Was dit nie sy altare wat jy persoonlik laat afbreek het met die opdrag dat die mense van Juda en Jerusalem slegs by die altaar in Jerusalem mag offer nie?