10 Wat meer is, dink jy ek het sommer uit my eie besluit om hierdie land van jou aan te val sonder om die Here te raadpleeg? Trouens, dit is juis die Here wat my die opdrag gegee het om hierdie land aan te val en dit te vernietig.”
11 Toe sê Eljakim, Sebna en Joag vir die koning se verteenwoordiger: “Praat asseblief eerder Aramees met ons, ons kan dit goed verstaan. Moenie Hebreeus praat nie, want die wagte daar op die stadsmuur kan elke woord wat jy sê, hoor en verstaan.”
12 Maar hy was reg met ’n antwoord vir hulle: “Dink julle die koning het my net na Hiskia en na julle paar toe gestuur met sy waarskuwing? O nee, die mense wat daar op die stadsmuur is, moet dit ook hoor, want hulle gaan die lydende party wees. Dit is hulle wat, as die hongersnood kom, hulle eie ontlasting sal moet eet en hulle eie urine sal moet drink om aan die lewe te probeer bly!”
13 Hy het toe opgestaan en kliphard in Hebreeus vir die mense op die muur geskreeu: “Luister wat sê die groot koning van Assirië!
14 Moenie dat koning Hiskia julle mislei nie. Hy sal julle nooit teen my kan beskerm nie.
15 Hy probeer julle laat glo dat julle op die Here kan vertrou en dat die Here julle sal verlos. Hy lieg as hy julle probeer wysmaak dat Jerusalem nooit in die koning van Assirië se mag sal kom nie.
16 Moenie na Hiskia luister nie! Aanvaar eerder hierdie voorwaardes van die koning van Assirië: Kom uit en gee julle vrywillig oor. As julle dit doen, sal ek julle toelaat om in vrede te bly lewe. Julle sal toegelaat word om op julle eie grond aan te bly en julle eie vrugte te bly eet en water uit julle eie putte te drink.