22 Die Here bly doer bo in die lug. Die mense wat onder op die aarde bly, lyk van daar af so klein soos sprinkane. Hy span die blou lug uit soos ’n dak bo-oor ’n tent. Hy slaan dit op soos ’n tent om in te bly.
23 Hy vat konings weg. Hy maak asof die regeerders van die wêreld nie eens bestaan nie.
24 Hulle is soos ’n plant wat skaars geplant is en begin wortelskiet of God laat ’n wind daaroor waai wat dit uitdroog. Hulle waai in ’n storm weg, soos wind stukkies gras wegwaai.
25 Die groot God vra: “Wie is daar met wie julle My kan vergelyk? Wie is daar wat net soos Ek is?”
26 Kyk op na die sterre in die lug. Hy wat hulle gemaak het, laat hulle almal in die aand uitkom. Hy ken elkeen van hulle se naam. Met sy groot krag sorg Hy dat nie een van hulle wegraak nie.
27 Jakob, waarom beweer jy dan dat die Here nie raaksien wat met jou gebeur nie? Waarom sê jy, Israel, dat Hy Hom nie daaraan steur dat jy verontreg word nie?
28 Verstaan julle nie en begryp julle dan nie dat die Here vir ewig en altyd God is nie? Hy het die hele wêreld gemaak. Hy word nooit moeg nie. Hy word nooit uitgeput nie. Niemand kan Hom regtig verstaan nie.