1 Die Here sê vir die lande wat oorkant die see is: Wag ’n bietjie. Maak julle reg. Kom nader en kom stel julle saak. Kom, laat ons dit in die hof gaan uitmaak.
2 Wie anders is dit as die Here wat hierdie koning uit die ooste sal laat kom om alles voor hom plat te trap? Wie anders sal hom help om nasies te oorwin en konings voor hom te laat buig? Wie anders help hom om die nasies soos stofwolke met sy swaard voor hom uit te jaag? Wie anders help hom om hulle met sy boog op loop te jaag soos gras wat voor die wind wegwaai?
3 Hy agtervolg hulle. Hy oorwin hulle. Hy marsjeer met sy leër deur plekke waar hy nog nooit was nie.
4 Wie sal dit alles laat gebeur? Wie het nog van altyd af besluit wat met die mense moet gebeur? Dit was nog nooit enige iemand anders nie as net Ek, die Here. Ek was daar reg van die begin af. Ek sal nog steeds daar wees reg teen die einde.
5 Die lande wat oorkant die see is, het gesien wat gebeur het. Hulle het bang geword. Die lande oor die hele wêreld begin bewe. Hulle kom bymekaar om reg te maak vir oorlog.
6 Hulle praat mekaar moed in. Hulle sê vir mekaar: “Ons moet nou sterk wees.”