14 Ek het vir lank stilgebly en niks gedoen nie. Maar Ek gaan nou iets doen. Ek sal skree soos ’n vrou wat ’n baba in die wêreld bring. Ek sal hyg, Ek sal hard asemhaal.
15 Ek sal droogte op die berge en heuwels laat kom. Ek sal die plante laat doodgaan wat daarop groei. Ek sal die riviere in stilstaande poele verander. Die riete in die vleie sal doodgaan.
16 Ek sal die blinde Israel op ’n pad laat loop wat hy glad nie ken nie. Hy sal op paaie loop waarvan hy glad nie eers geweet het nie. Ek laat die donkerte voor hulle in lig verander. Ek verander die pad wat vol slaggate is in ’n gladde pad. Ek gaan dit doen. Ek sal hulle nie in die steek laat nie.
17 Aan die ander kant sal die mense wat op afgode staatmaak en vir afgodsbeelde sê: “Julle is ons god” op hulle neus kyk. Hulle gaan sleg daarvan afkom.
18 Julle wat julle so doof hou en maak of julle blind is, moet nou ’n bietjie aandag gee.
19 Die volk wat My moet dien, het mos oë wat nie wil sien nie. Die boodskapper wat Ek stuur, het mos ore wat glad nie wil hoor nie. Wie is so blind soos die volk van die Here?
20 Julle het so baie dinge gesien, maar dit het geen indruk op julle gemaak nie. Julle luister, maar julle hoor eintlik niks.