5 Die Here God het die blou lug oor die aarde gespan. Hy het die uitgestrekte aarde gemaak. Hy het dit volgemaak met alles wat daarop lewe. Hy gee lewe aan almal wat op aarde is. Hy gee vir al die volke op aarde asem om te lewe. Hy sê vir hierdie man:
6 Ek is die Here. Ek het jou geroep om geregtigheid op aarde te bring. Ek sal jou hande sterk maak en jou beskerm. Deur jou maak Ek ’n ooreenkoms met die volke. Jy is die lig wat die nasies na My toe lei.
7 Jy sal dié wat blind was, laat sien. Jy sal dié wat in tronke was, laat uitkom. Jy sal dié wat in donker selle gebly het, daaruit bevry.
8 My naam is die Here. Ek staan die eer wat Ek moet ontvang, aan niemand anders af nie. Ek laat geen afgod toe om soos Ek grootgemaak te word nie.
9 Wat Ek voor die tyd al vir julle gesê het, gaan net so gebeur soos Ek gesê het. Ek laat julle hoor van dinge wat nog moet kom, selfs al voor dit begin het om te gebeur.
10 Julle moet vir die Here ’n nuwe lied sing. Oor die hele aarde moet Hy grootgemaak word. Almal wat op die see vaar en alles wat in die see is, moet saam sing. Die lande oorkant die see en almal wat daar woon, moet God verheerlik.
11 Die woestyn en die dorpe wat daarin is, moet vir die Here sing. Dié wat in Kedar bly, moet sy Naam grootmaak. Dié wat in Sela bly, moet juig. Hulle moet van die toppe van die berge af jubel vir die Here.