1 Die Here laat Kores regeer. Hy maak hom sterk. Hy gee vir hom die krag om ander nasies voor hom te laat buig. Hy laat konings hulle wapens voor hom neerlê. Geen stad kan hom uit hou nie. Hy breek hekke oop om stede binne te val. Die Here sê vir hom:
2 Ek gaan voor jou uit. Ek maak jou pad gelyk. Ek breek koperdeure vir jou oop. Ek kap ysterslotte vir jou stukkend.
3 Ek gee vir jou die skatte wat in donker plekke bewaar word, die rykdom wat weggesteek word. Ek doen dit vir jou sodat jy kan weet dat dit Ek, die Here, die God van Israel is wat jou geroep het om te regeer.
4 Ek het spesifiek vir jou geroep. Ek doen dit ter wille van Jakob wat My dien, ter wille van Israel wat Ek gekies het om aan My te behoort. Ek het jou ’n spesiale posisie gegee, al het jy My nie geken nie.
5 Ek is die Here. Behalwe vir My is daar nie ander gode nie. Ek het jou sterk gemaak vir jou werk, al ken jy My glad nie.