17 Die Here bevry Israel. Hulle sal vir altyd vry wees. Hulle sal in der ewigheid nooit skaam kry of verleë staan nie.
18 Die Here het die lug gemaak. Net Hy is God. Hy het die aarde gemaak. Hy het dit nie gemaak dat dit moet leeg staan nie, maar dat mense daarop kan woon. Hy sê: Ek is die Here. Daar is nie nog ’n ander God ook nie.
19 Ek het nie iets in die geheim gesê nie. Ek het nie daar gepraat waar dit donker en eenkant is nie. Ek het nie vir Jakob se nageslag gesê om na My te gaan soek waar dit eensaam en verlate is nie. Wat Ek, die Here, sê, is reg en regverdig.
20 Laat almal uit die ander nasies wat moes vlug, nou bymekaarkom. Laat hulle hier na My toe kom. Die mense wat beelde ronddra wat van hout gemaak is, is baie dom. Hulle aanbid gode wat niemand kan bevry nie.
21 Sit koppe bymekaar en beplan hoe julle julle saak gaan bewys. Wie het lankal al gesê wat nou gaan gebeur? Was dit nie maar Ek, die Here, nie? Daar is mos nie ’n ander God behalwe Ek nie. Ek is die enigste Een wat regverdig is en wat mense red. Niemand anders kan dieselfde vir julle doen nie.
22 Laat almal oor die hele wêreld na My toe kom dat Ek julle kan bevry. Daar is mos nie ’n ander God wat dit vir julle kan doen nie.
23 Ek maak ’n belofte vir julle wat vir altyd bly: elke mens sal nog voor My kom buig en bely dat Ek die Here is.