10 Jy het staatgemaak op die verkeerde dinge wat jy doen. Jy het vir jouself gesê: “Niemand sien tog wat ek doen nie.” Jou slimmigheid en jou kennis van die verkeerde dinge het jou die spoor byster laat raak. Jy het ewe verwaand jouself wysgemaak dat niemand anders so goed is soos jy nie.
11 Daar gaan teëspoed oor jou kom. Jy sal dit nie kan wegtoor nie. Ongeluk sal op jou toesak. Jy sal dit met niks kan keer nie. ’n Ramp sal jou uit die bloute tref. Jy sal nie weet hoe om dit te hanteer nie.
12 Gaan maar aan met jou toorkunsies en die beswerings waarmee jy jou al van jou kinderdae af besig hou. Miskien kry jy nog iets daarmee reg. Miskien skrik jou vyande daarvoor.
13 Jy hou jou graag op met voorspellings. Jy het mense wat die hemelruim bestudeer. Hulle neem die sterre waar. Hulle voorspel elke maand vir jou wat met jou gaan gebeur. Laat hulle jou nou bevry.
14 Sowaar, hulle is soos droë gras. Die vuur brand hulle weg. Hulle kan nie eens hulleself van die vlamme red nie. Hierdie is nie ’n vuur om mee te speel nie.
15 Die mense met wie jy jou ophou, met wie jy van jongs af te doen het, sal elkeen sy eie koers vat. Nie een van hulle gaan jou uit jou probleme uithelp nie.