1 Ek wil ’n lied sing oor die Een wat ek liefhet, ’n lied oor sy wingerd. Die Een wat ek liefhet, het ’n wingerd gehad op ’n baie vrugbare heuwel.
2 Hy het die grond omgespit en die klippe uitgehaal. Daarna het Hy van die beste wingerdstokke daarin geplant. In die middel van die wingerd het Hy ’n wagtoring gebou en toe ’n parskuip uit die rotse daar naby gekap. Hy het ’n goeie oes verwag, maar toe die oestyd kom, was elke druif aan daardie wingerd suur.
3 Nou vra die Een wat ek liefhet: Inwoners van Jerusalem en Juda, Ek het my saak aan julle gestel, lewer tog nou uitspraak tussen My en my wingerd.
4 Wat meer kon Ek vir my wingerd doen as wat Ek alreeds gedoen het? Waarom het my wingerd dan suur druiwe gedra in plaas van die goeie druiwe wat Ek verwag het?
5 Laat Ek julle vertel wat Ek nou met my wingerd gaan doen: Ek gaan die heining wat daarom was om dit te beskerm wegvat en die muur wat Ek daarom gebou het, afbreek, sodat die diere kan inkom en dit kaal vreet en met hulle pote vertrap.
6 Ek gaan hierdie wingerd aan homself oorlaat om toe te groei. Ek gaan dit nie meer snoei of skoffel nie. Doringbosse en onkruid sal dit inneem en Ek sal sorg dat dit nie daar reën nie.
7 Israel is die Here die Almagtige se wingerd. Die mense van Juda is die wingerdstokke van wie Hy so baie verwag het. Hy het reg en geregtigheid verwag, maar onreg gekry. In plaas van eerlikheid moes Hy hoor hoe die verontregtes hulle lot by Hom bekla.