8 Hulle ken nie so iets soos vrede nie. Op hulle pad bestaan daar nie so iets soos regverdigheid nie. Hulle paaie is vol kronkels en draaie. Dié wat saam met hulle loop, kom nooit tot rus nie.
9 Daar is niemand onder ons wat reg doen nie. Ons ken nie meer regverdigheid nie. Ons wag verniet dat dit moet verander. Alles bly net soos dit is. Ons strompel maar voort in die stikdonker.
10 Ons loop soos blindes voel-voel teen ’n muur. Ons tas rond soos mense sonder oë. Ons val oor ons voete asof ons in die donker loop terwyl dit helder dag is. Tussen mense wat springlewendig is, is ons soos dooie lyke.
11 Ons is almal soos bere wat ongeduldig brom en duiwe wat in hulle kroppe kir. Ons sit en wag om bevry te word, maar daar gebeur net mooi niks nie. Ons redding bly maar net weg.
12 Ons het al so baiekeer teen die Here in opstand gekom. Ons oortredings kla ons aan. Dit maal in ons gedagtes. Ons is bewus van alles wat ons verkeerd gedoen het.
13 Ons het ons teen die Here verset. Ons het gemaak asof die Here nie bestaan nie. Ons het die rug vir ons God gedraai. Ons het oor geweld en bedrog begin praat. Ons het leuens uitgedink en dit vir almal vertel.
14 Daar is nie meer regverdige uitsprake in die hof nie. Waarheid het tot ’n val gekom. Eerlikheid mag nie eers meer in die hofsaal inkom nie.