2 Om Hom was daar serafs. Elkeen het ses vlerke gehad. Hulle het twee van die vlerke gebruik om hulle oë toe te hou sodat hulle nie die Here kon sien nie. Hulle het twee ander vlerke gebruik om hulle naaktheid te bedek en met die ander twee het hulle gevlieg.
3 Terwyl hulle so gevlieg het, het hulle oor en weer vir mekaar geroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Sy magtige teenwoordigheid sprei oor die aarde soos ’n doek.”
4 Hulle het so hard gesing dat die deure van die tempel in hulle kosyne gerammel het, en die hele tempel het vol rook geword.
5 Toe sê ek: “Dit is verby met my, want ek is skuldig! Ek doen gedurig sonde deur wat ek sê, en nie net ek nie, maar ook die volk by wie ek bly. En nou het ek met my eie oë die Koning gesien, die Here die Almagtige!”
6 Een van die wesens het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg.
7 Hy raak toe met die kool aan my mond en sê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou skuld weggeneem en jou sonde vergewe.”
8 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie sal Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?”“Ek sal gaan,” het ek gesê, “U kan my stuur!”