1 Vir Sion se onthalwe sal ek bly roep. Ek sal ter wille van Jerusalem nie ophou roep voordat die stad bevry is nie. Ek sal aanhou roep totdat sy redding brand soos die lig van ’n fakkel.
2 Die volke sal sien hoe jy gered word. Die konings sal staan en kyk hoe Jerusalem vrykom. Die Here sal vir jou ’n nuwe naam gee wat Hy self gekies het.
3 Die Here sal jou in sy hand hou soos ’n pragtige kroon wat ’n koning op sy kop sit.
4 Daar sal nie meer van jou gepraat word as die vrou wat geskei het nie. Jou land sal nie langer ’n verlate stuk grond wees nie. Jy sal die Here se liefling genoem word. Jou land sal aan die Here verbind wees. Die Here het jou lief. Hy sorg vir jou land soos ’n man vir sy vrou sorg.
5 Die mense wat in jou woon, sal vir jou sorg. Dit sal wees soos ’n jongman wat met ’n meisie trou. Soos die bruidegom bly is oor sy bruid, so sal jou God oor jou bly wees.
6 Ek het wagte op Jerusalem se mure uitgesit. Hulle moet dag en nag op die uitkyk wees. Hulle moet die Here sonder ophou aan sy beloftes herinner. Hulle mag nooit ophou nie.
7 Hulle mag nooit kopgee nie. Hulle moet aanhou totdat die Here Jerusalem so herstel het dat die aarde oor hom kan sing.