20 Kinders sal nie daar doodgaan terwyl hulle nog babatjies is nie. Ou mense sal eers op ’n ryp ouderdom doodgaan. As iemand doodgaan voordat hy 100 jaar oud is, sal dit as ’n straf gesien word.
21-22 Hulle sal huise bou wat hulle nie hoef af te staan nie, maar waarin hulle self kan bly. Hulle sal wingerde aanplant waarvan hulle nog in hulle eie leeftyd druiwe kan pluk. Hulle sal so lank leef soos ’n boom. Hulle wat Ek vir My gekies het, sal nog die vrug kan geniet van dit wat hulle gemaak het.
23 Hulle sal hulle nie hoef besig te hou met dinge wat geen voordeel bring nie. Hulle sal nie kinders vir die ongeluk grootmaak nie. Die Here sal hulle en hulle kinders voorspoedig maak.
24 Ek sal vir hulle gee waarvoor hulle bid, selfs nog voor hulle daarvoor gevra het. Terwyl hulle nog besig is om te bid sal Ek reeds na hulle gebed geluister het.
25 Die wolwe en die lammetjies sal saam eet in die veld. Leeus sal gras vreet soos beeste. Slange sal van stof leef. By my tempel, sê die Here, sal niemand seergemaak word of enigiets beskadig word nie.