Jesaja 66:4-10 DB

4 Ek het besluit om dinge met hulle te laat gebeur waarvoor hulle bang is. Ek het hulle mos geroep, maar niemand wou My antwoord nie. Ek het met hulle gepraat, maar hulle wou nie luister nie. Hulle het aangehou om te doen wat vir My verkeerd is. Hulle het hulle toegespits op die dinge wat vir My onaanvaarbaar is.

5 Julle wat respek het vir die Here se woord moet hoor wat die Here vir julle sê: Die mense uit julle volk wat julle haat en julle verstoot omdat julle aan My getrou bly, sal spot en vir julle sê: “Eer maar die Here. Laat ons sien waarom julle so bly is oor God!” Hulle gaan in die skande kom.

6 Luister na die lawaai wat uit die stad kom! Hoor die rumoer daar by die tempel! Dit is die geluid van die Here wat sy vyande terugbetaal vir wat hulle gedoen het.

7 Geboortepyne kom eers voordat ’n vrou ’n baba in die wêreld bring. ’n Baba word nie gebore as die pyne nie eers gekom het nie.

8 Wie het al gehoor dat dit anders kan wees? Wie het al so iets gesien? Word ’n land in een enkele dag gebore? Of kom ’n volk in een enkele oomblik in die wêreld in? Sion het nog skaars geboortepyne gevoel, toe is haar seun gebore.

9 Sal Ek dit tot op die punt laat vorder dat die geboorte moet kom en dit dan nie laat gebeur nie? vra die Here. Sal Ek wat geboortes laat gebeur, dit dan skielik terughou? vra jou God.

10 Almal wat lief is vir Jerusalem, moet saam met die stad bly wees. Juig saam met die stad! Almal wat oor Jerusalem getreur het, moet nou saam met haar vrolik wees.