6 Luister na die lawaai wat uit die stad kom! Hoor die rumoer daar by die tempel! Dit is die geluid van die Here wat sy vyande terugbetaal vir wat hulle gedoen het.
7 Geboortepyne kom eers voordat ’n vrou ’n baba in die wêreld bring. ’n Baba word nie gebore as die pyne nie eers gekom het nie.
8 Wie het al gehoor dat dit anders kan wees? Wie het al so iets gesien? Word ’n land in een enkele dag gebore? Of kom ’n volk in een enkele oomblik in die wêreld in? Sion het nog skaars geboortepyne gevoel, toe is haar seun gebore.
9 Sal Ek dit tot op die punt laat vorder dat die geboorte moet kom en dit dan nie laat gebeur nie? vra die Here. Sal Ek wat geboortes laat gebeur, dit dan skielik terughou? vra jou God.
10 Almal wat lief is vir Jerusalem, moet saam met die stad bly wees. Juig saam met die stad! Almal wat oor Jerusalem getreur het, moet nou saam met haar vrolik wees.
11 Drink aan Jerusalem se voorspoed soos ’n baba aan sy ma se bors drink om versadig te word.
12 Die Here sê: Ek sal voorspoed na haar toe laat kom soos ’n rivier wat vloei. Ek sal die rykdom van ander nasies soos water in haar laat instroom. Soos ’n babatjie sal jy aan haar drink. Sy sal jou ronddra en jou vertroetel.