10 Die Here se reaksie hierop is om hulle vyande aan te hits om hulle aan te val.
11 Die Siriërs uit die ooste en die Filistyne uit die weste storm op Israel af soos roofdiere om hulle op te vreet. Ondanks dit alles het die Here se woede nog nie bedaar nie en is Hy van plan om hulle nog te straf.
12 Ten spyte van die straf het die volk hulle nie bekeer en na die Here toe teruggedraai nie. Hulle het ook nie gevra wat Hy van hulle verwag nie.
13 Daarom sal die Here Israel op een dag heeltemal vernietig. Hy gaan die kop en die stert, die palmtak en die riete saam afsny.
14 Die kop is die leiers en hulle vriende, terwyl die profete wat so lieg die stert is.
15 Dié wat vir die volk leiding moes gee, het hulle heeltemal mislei; daarom is die mense heeltemal verward en verdwaas.
16 Daarom is die Here nie eens meer opgewonde oor die jongmense nie, en kry Hy ook nie meer die weduwees en die weeskinders jammer nie. Hulle is almal ewe korrup en goddeloos, en die een vertel meer leuens as die ander. Maar die Here se woede het nog nie bedaar nie. Hy is van plan om hulle nog te straf.