1 'n Gebed van Dawid.Luister tog na my, Here, verhoor my gebed,want ek is hulpeloos en arm.
2 Beskerm my, want ek is u troue dienaar,red my, want U is my God, op U vertrou ek.
3 Wees my genadig, Here,ek roep die hele dag deur na U.
4 Maak my bly, Here,ek hunker na U.
5 U is goed, Here, U vergewe altyd weer,U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp.
6 Luister na my gebed, Here,gee tog ag op my smeekgebed.
7 Op die dag van my nood roep ek na U,U sal my gebed verhoor.
8 Daar is geen god soos U nie, Here,niks kan met u werk vergelyk word nie.
9 U het al die nasies gemaak;hulle sal voor U kom buig, Here,en aan u Naam die eer gee,
10 want U is groot en doen magtige dade,U alleen is God.
11 Leer my u pad, Here,ek wil wandel in u waarheid;leer my U met toewyding dien.
12 Met my hele hart sal ek U prys, Here my God,u Naam altyd eer,
13 want u liefde vir my was groot:uit die dieptes van die dood het U my gered.
14 Dit is hovaardige mense wat my aanval, o God,'n bende geweldenaars wat my wil doodmaak,mense wat met U nie rekening hou nie.
15 U, Here, is 'n barmhartige en genadige God,lankmoedig, vol liefde en trou.
16 Sien my, u dienaar van my geboorte af, in genade aan,gee U my tog krag en red my.
17 Maak my 'n voorbeeld van u goedheid,sodat dié wat my haat, verleë sal moet toesiendat U, Here, my help en vir my uitkoms gee.