1 Vir die musiekleier; op die agt-snaar lier: ’n gedig van Dawid, met instrumentale musiek.
2 Red, o יהוה, want die Godvresendes is nie meer nie, want vertroue verdwyn onder die seuns van die mens.
3 Hulle praat valsheid met mekaar; met vleiende lippe en dubbelhartigheid praat hulle.
4 Mag יהוה al die vleiende lippe vernietig en die tong wat grootpraat,
5 wat gesê het: “Met ons tong sal ons voortbestaan; ons lippe is ons eie! Wie is meester oor ons?”
6 “As gevolg van die vernietiging van die geteisterdes, as gevolg van die gekerm van die behoeftiges sal Ek nou opstaan,” sê יהוה; “Ek sal hom in die veiligheid plaas waarna hy verlang.”
7 Die woorde van יהוה is gesuiwerde woorde, soos silwer wat gelouter is in ’n smeltkroes op die aarde, sewe maal gesuiwer.
8 U, o יהוה, sal hulle bewaar; U sal hom bewaar van hierdie geslag vir ewig. 9 Die wetsoortreder loop oral rond met trots wanneer vuilheid hoog geag word by die seuns van die mens.